Donderdag 20 April 2017

Groepsdruk by ​Tieners

Daar is niks lekkerder as om deel van ‘n goeie vriendekring te wees nie en niks slegter as om altyd te voel soos ‘n buitestaander.  As jou identiteit afhang van hoe populêr jy is, gaan jy gereeld jou standaarde verander om by al jou vriende in te pas.  Skoolverlaters sit met nagevolge van groepsdruk, soos dwelmverslawing of seksueel oordraagbare siektes wat ‘n negatiewe invloed het op hulle loopbaan en die daardie vriende is lankal nie meer ‘n belangrike deel van hulle lewe nie.

Wat is belangrik vir jou as tiener - Christenskap, morele waardes, groei, vertroue?  Wat staan in die pad daarvan om dit uit te leef?  Groepsdruk?
Om groepsdruk te oorkom moet jy wat jy van jouself dink en wat vir jou belangrik is, belangriker ag as wat jou vriende van jou dink.  Om in te gee vir groepsdruk is jy in ‘n verloor –wen situasie, jy verloor want jy verlaag jou standaarde en jou vriende wen.

Uit persoonlike ondervinding as geskeide ma van twee seuns, ouderdomme 10 en 17, het ek ondervind dat beide my kinders reeds voorskool aan kinders se sekspraatjies blootgestel was.  Ouers kan nie kinders vrywaar teen wat in ander ouerhuise gebeur nie.  Jong kinders kom met vrae en ouers kan kies om dit weg te praat en die kind gaan sy antwoorde elders soek of jy as ouer kan kies om jou kind op ‘n mooi manier hieroor in te lig.  Ek het verkies om met beide my kinders op ‘n jong ouderdom in te lig.  Dit is belangrik om aan kinders te verduidelik dat hierdie ‘n spesiale proses is wat gebeur tussen twee mense binne ‘n huwelik, wat lief is vir mekaar.  Dit is ook belangrik om kinders daarop te wys om nie hierdie soort stories by hulle maats te gaan rondvertel en eerder hulle vrae met jou te kom bespreek.  As jou kommunikasie kanaal met jou kind reg is, sal’n kind die vrymoedigheid hê om na jou toe te kom met kwessies rondom drank, dwelms en seks en die ouer kan help om die rigting te bepaal.

Een van die mees basiese menslike behoeftes is liefde en toegeneentheid, die behoefte om te ervaar dat jy iewers behoort en welkom is.  Met voldoende hoeveelhede toegeneentheid sal ‘n kind heelwaarskynlik ontwikkel as ‘n verantwoordelike volwassene.  ‘n Kind in ‘n egskeiding kan byvoorbeeld voel ‘n pa verlaat die huis omdat hy nie omgee nie, en ‘n ma kry iemand anders omdat sy nie omgee nie.  So ‘n kind kan moontlik in ‘n oppervlakkige, seksuele verhouding betrokke raak om aanvaarding te soek.  Materiële dinge is geen plaasvervanger vir  liefde nie.

Persepsies wat mens oor jouself het is soos ‘n bril waardeur mens elke dag na die wereld kyk.  As mens verkeerde persepsies oor jouself of oor die wêreld het is dit soos ‘n bril met verkeerde voorskrif lense wat jy elke dag opsit.  Persepsies bepaal die rigting van jou lewe.  As ‘n mens glo jy is lelik, sal jy redes vind om dit te staaf. Die brein is ‘n magtige orgaan en dit is moontlik om negatiewe persepsies omtrent jouself af te breek en te vervang met positiewe persepsies.  Omring jouself met positiewe vriende wat jou opbou.  Negatiewe persepsies by tieners draai gewoonlik rondom voorkoms, prestasies, finansiële welstand en persoonlikheid. 

‘n Introverte persoonlikheid het baie keer tot gevolg dat ‘n kind nie sy“oulike persoonlikheid kan bekendstel” in ‘n geselskap nie en dan moeilik vriende maak. Introverte maak hulle eie unieke bydrae tot die lewe. 

Gewigsprobleme  het ‘n groot invloed op ‘n kind se selfbeeld en dit kan reggestel word met wilskrag en ondersteuning van die ouers.

Wat is waardes?
Dit is dit wat die belangrikste in die lewe is vir jou, dit wat jou ‘n vervulde lewe laat lei, wat jou lewe verryk.  Jou waardes bepaal jou besluitnemingsproses klomp keer deur die dag.  As jy sukkel om ‘n besluit te neem is dit omdat twee waardes naby aan mekaar lê.  Waardes bepaal die rigting van jou lewe.

Hoe dink jy gaan iemand se kar lyk wat se hoogste waarde avontuur is teenoor iemand wat se hoogste waarde gemak en gerief is?  Hoe gaan hierdie twee mense vakansie hou?  Wat gebeur as hierdie twee mense trou?  Net so met die vriende wat jy kies.  As jou hoogste waarde hoë morele waardes, pligsgetrou, eerlik is en jy raak bevriend met iemand wat geen sedelike waardes het nie, geen sin vir verantwoordelikheid, maklik leuens vertel...gaan iemand waardes verander ten goede of ten slegte of gaan jy ander vriende soek?

As jy jou eie waardes ken en die volgorde van hulle belangrikheid, sal jy verstaan hoekom jy optree soos jy optree en hoekom dit soms moeilik is om ‘n besluit te neem.  Byvoorbeeld as jy familie en vriendskap hoog aanslaan gaan dit vir jou moeilik wees om te besluit of jy saam met jou vriendin op ‘n belangrike inkopietog gaan of jy eerder saam met jou familie, wat saam kuier die naweek, wil wees.

 ‘n Christen wat met ‘n persoon trou wat nie ‘n Christen is nie se waardes raak later onversoenbaar as een van die twee nie waardes verander nie.  Gaan die kinders Sondag sport doen of kerk toe gaan.  Net so speel waardes ‘n groot rol by vriendskappe, ‘n Eerlike kind sal byvoorbeeld in versoeking gelei word deur ‘n oneerlike kind in ‘n vriendskap, of na die anderkant kan die eerlike kind die oneerlike kind se persepies verander as die eerlike kind sterk genoeg is.

Begin met die end in gedagte : Elke  tiener moet sy hoërskool loopbaan begin met ‘n positiewe doel voor oë.   Watter positiewe bydrae het jy as tiener gedurende jou hoërskoolloopbaan gemaak teenoor jouself en watter positiewe bydrae kon jy van jouself by jou skool agterlaat (nie noodwendig net akademies of sportgewys nie)?


Ken jouself:
·        Jou waardes

·        Behoeftes

·        Oortuigings

·        Grense

  • Goeie vriende moet soortgelyke waardestelsel hê as joune, anders gaan jy gedurig gekonfronteer word met waardes wat nie inpas by joune nie.
  • As jou identiteit deur jou vriende bepaal word, gaan jy gedurig jou standaarde moet verander om by al jou vriende in te pas.
  • Persepsies ontstaan en word gebou oor tyd.  Iets wat vir jou onaanvaarbaar is, kan met tyd aanvaarbaar word omdat jou vriende/ omgewing jou gedurig daaraan blootstel.  Dertig jaar terug was saambly onaanvaarbaar, vandag is dit algemeen en baie kinders word gebore sonder die vastigheid van ‘n huweliksband tussen hulle ouers.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking